This slideshow requires JavaScript.

Vanoggend hoef ons niemand wakker te maak of aan te jaag om klaar te maak nie. Ons kuier by vriende in Singapoer en op vandag se te-doen lysie is LEGOLAND in Maleisië. Gewapen met ons paspoorte, waterbottels en snoepgoed, bondel ons behoorlik by die voordeur uit. Ons drie kinders en hul twee SA maatjies, wat hier in die vreemde woon, kan nie ophou babbel nie. Hulle moet ongelukkig opgedeel word want, ons vriende se motor(tjie) kan maksimaal vyf mense akkommodeer. Ons het ‘n bus pakket gekry waarmee my man en twee van die kinders die 50km van die Singapore Flyer af LEGOLAND toe gaan aandurf.

Die vyf van ons in die motor gaan lekker vinnig deur doeane. Alles gebeur sommer deur die venster, amper soos by ‘n ‘Drive Thru”! Die bus neem effens langer omdat almal moet uitklim en te voet deur doeane gaan. Die bus chauffeur wag totdat die laaste passasier se dokumentasie uitgesorteer is voordat hy vertrek. Hy ken die pad egter beter as ek en my vriendin. Ten spyte van die vorige aand se Google navorsing en aanwysings van vriende: “…jy kan dit nie mis nie”, verdwaal ons in ons kanon in. Die GPS herbereken kort-kort en probeer ons kruis en dwars oor die snelweg stuur met paaie wat nie bestaan nie. Toe ons beskawing sien, draai ons summier af. Die twee sekuriteitsbeamptes by die hek verduidelik baie vriendelik die pad. Engels, Maleis en ‘n hele klomp gebare later, glimlag hulle tevrede: “You can’t mis it!”. Ons gesigsuitdrukkings moes boekdele gespreek het. Miskien is dit net die geleentheid waarvoor die een wat buite in die hitte diens gedoen het gewag het. Al wat ek van die onderhandeling tussen hom en sy kollega kon uitmaak is “will buy Coke”. Hy spring in sy bakkie en beduie dat ons hom moet volg. Binne sewe minute sien ons die bord “Welcome to LEGOLAND”. Ons almal waai die internasionale teken vir “dankie en totsiens” vir ons weldoener wat verder ry (waarskynlik om ‘n rooi yskas te gaan soek). Die bus het gewen. Maar omdat hulle eers via Hello Kittie Town gery het om die helfte van die passasiers daar af te laai was dit maar net met ‘n kort kop.

Die gees en opwinding van die park slurp ons dadelik in. Primêre kleure verwelkom ons oral en die bekende Lego blokkies word op enige moontlike manier opgetower tot kunswerke, interessante pretritte of opvoedkundige uitstallings. Die kinders hardloop rond opsoek na die volgende lego figuur wat tussen die plante wegkruip en ons draf agterna met die kameras en rugsakke. Die LEGOLAND Driving School ryk aan elke kind ‘n LEGOLAND bestuurslisensie uit nadat hulle die opleiding in lego karretjies geslaag het. By die Lego Rescue Academy hou gesinne teen mekaar kompetisie om te sien wie se lawwe op en af gepompery hul brandweerwa eerste tot by die brandende gebou kan kry. Hier moet almal afspring en terwyl twee spanlede die water pomp, moet die ander die vuur probeer blus met waterkanonne. Die kinders skater om te sien hoe ernstig ons grootmense dit opneem. Die LEGOLAND Express bied ‘n effense lafenis van die hitte terwyl ons deur die park ry. Die kinders verkyk hulle aan lewensgrootte Lego dinosourusse en ry soos ridders op perde nadat hulle in Camelot se kasteel wegkruipertjie gespeel het. Ons verwonder ons aan die miniatuur Lego Asië en herken darem van die bakens soos die Singapore Flyer, die Petronas Towers en die Taj Mahal. Die Skeepswerf speelparkie is in die haaie son en die kinders hou nie te lank hier nie. Ons bedel ys by elke koerldrankstalletjie waar ons verbystap en vee dit soms self oor die kinders se skouers om af te koel. Ek druk uiteindelik my kinders se hemde onder ‘n kraan en laat hulle dit sopnat aantrek. Die kinders gaan op ‘n Nyl ekskursie waar hulle met lasergewere moet skiet na Lego geraamtes en spinnekoppe wat skatkiste beskerm.

Uiteindelik is dit tyd om terug te gaan. Ons wens ons het baie meer tyd gehad! Vanaand droom almal verskillende drome, maar dit sal beslis iets te doen hê met klein blokkies met knoppies op!

 Interessanthede

  • LEGOLAND Maleisië is die sesde LEGOLAND in die wêreld en het sy deure in September 2012. vir die publiek oopgemaak. Die park fokus op families met kinders tussen twee en twaalf jaar oud.
  • Die LEGOLAND waterpark is reg langs LEGOLAND geleë en is blykbaar die grootste van sy soort ter wêreld.
  • Suid-Afrikaners het nie ‘n visum vir Maleisië (of Singapoer) nodig nie
  • LEGOLAND Maleisië is net 50 km van Singapoer af
  • Daar is verkeie dagekskursie pakkette vanuit Singapoer beskikbaar. Die pakkette sluit vervoer en toegang tot die park in, wat dikwels goedkoper uitwerk as om die toegang by die park self te betaal.
  • Die Lego verskeidenheid by die suvenierwinkeltjies is baie groot. Lego stukkies word ook per gewig verkoop.
  • LEGOLAND Maleisië deel ‘n baie groot parkeerterrein met die Medini Winkelsentrum (Mall of Medini).
  • Die park het nog min skaduwee en dis bloedig warm met ‘n hoë humiditeit
  • Kos is nie buitensporig duur nie en daar is ‘n groot verskeidenheid (enige iets van Peking duck met rys tot Burgers en skyfies).