Wat doen jy as jy ʼn gewone 2×4 gesinsmotor het, drie jong dogtertjies, en skielik tien dae in die middel van die winterskoolvakansie vry het?

 Jy pak ʼn paar tasse vol somersklere, vat die paspoorte en gaan soek daai groot waterval waarheen jy al sedert jou wittebrood wou gaan.

Ek kan nie presies sê of dit in die voorafgaande Sondag se koffie, die koek of die kameraderie van die kuier by ons ‘wanderlust-vriende’ was nie, maar toe ons klaar gekuier het, was ons koppe reeds in hoogste rat. Vyf dae later was ons en die drie juffers oppad vir ons eerste ‘Afrika vakansie’.

 Voorbereidings

 Ander vriende, wat voorheen in Zimbabwe gewoon het, help ons met ʼn rowwe reisplan. Ons bespreek twee nagte se verblyf vooruit. Die eerste nag by Tshipise sodat ons vroeg die volgende oggend deur die grenspos kan gaan. Die tweede bespreking is vir later in die reis by Kasane Lodge in Botswana, dat ons ten minste weet waar ons met ons huweliksherdenking sal wees.

Die kinders kan nie glo dat ʼn mens geld kan koop nie en is gefassineer deur die Amerikaanse dollers wat my man van die bank af bring.

 Dit is wel ʼn eer en voorreg om ʼn kaart te kan lees, maar ons koop tog ʼn GPS met ekstra roetes van Afrika op.

Met geen plek vir tente en beddegoed nie, pak ons net tasse en padkos. Vreemd om in my winterstrui te staan en somersklere te pak, maar kortbroeke, sandale en swemklere maak die tasse vol. In Pretoria laai ek vir oulaas dokumente by kliënte af en toe vergeet ons van sperdatums, e-posse en rekonsiliasies. Nou doen ons net wat ons wil, wanneer ons wil. Die enigste ding wat op ʼn vaste tyd moet gebeur is Dinsdae se malariapil vir die volgende ses weke.

So anders as die Vrystaat

Tshipise is heerlik warm. Ons Vrystaters swig voor die helder swembad en sonnige winter weer. Anders as beplan, vertrek ons net voor middagete eers uit Tshipise. Gewapen met ʼn warm brood uit die oord se kafeteria, besef ons dat ons in is vir ʼn ding by die grenspos. Jy sien dit sommer al soos wat jy aankom – hordes mense, busse, motors, sleepwaens wat dubbel sy eie hoogte gestapel is met plastiek emmers of enorme sakke vol kaaskrulle en die astrante apies wat tussendeur van die toeriste se padkos uit hul motors kom steel. Met ons gemoed op die “geduld stelling”, letterlik ʼn witbrood onder die arm en met ‘The Sound of Music’ op die kinders se mobiele DVD speler kry ons die byna 3 ure op die grenspos uiteindelik agter die rug.

 Nadat ons onsself deur die verskillende toonbanke genavigeer het, is ons met vyf gestempelde paspoorte, ʼn motorpermit en heelwat minder dollers terug in die motor, oppad Bulawayo toe. Ons kom egter nie ver nie, want die beampte by die hek wil weet waar die stempel op ons blou vorm is. Die blou vorm moes deur die polisie aan die oorkant van die straat gestempel word en deur ʼn ander beampte ingeseën word. Teen die tyd wat Maria die Vontrap kinders vir die derde keer oor die Oostenrykse Alpe help vlug het, kom my man terug met die nodige stempels en handtekeninge en daarna voel die beampte gemakliker om ons in sy land toe te laat sodat ons die 400 km Bulawayo toe kan aanpak.

As gevolg van Tshipise se swembad is ons nou nie meer betyds vir ons eerste aand se beplande oornagpunt in die Matopos nie. Die GPS neem ons deur Bulawayo se donker strate na ʼn gastehuis wat nie meer bestaan nie. Om die hoek sien ons egter die Bulawayo Munisipale Kampeerterrein se bordjie raak. Hulle kamerpryse is billik en vir ʼn plek waar jy meeste van die tyd toe oë gaan spandeer is dit goed genoeg. Ons kamer het twee dubbelbeddens en die lakens is skoon. In die ablusieblok word sommige krane met draad aanmekaar gehou, maar die geriewe is doeltreffend. Ons word die volgende oggend aangenaam verras deur die helder blomme in die tuine en die rustige ge-tik-tik van die sproeiers op die welige grasperke. Dit lyk asof ʼn mens heerlik hier sou kon kamp. Tog staan daar maar net drie woonwaens in die park toe ons die oggend vertrek.

Klippe klim lekkerder as bome

Klippe op klippe op klippe. Silkaats het dit nie verniet die plek van die kaalkoppe genoem nie. Die ronde klippe se akrobatiese toertjies bo op mekaar is verstommend. Die Matopos voel soos ʼn versteekte skat waarop ons afgekom het. Prentjie-mooi en rustig. By Cecil John Rhodes se graf verwonder ons onsself aan die 360 grade uitsig. Dit maak sin dat hy hierdie spesifieke plek voor sy dood uitgekies het. Die grootte van die granietblok op sy graf oorskadu die eenvoudige bewoording wat hy vir sy grafsteen voorgeskryf het: “Here lies Cecil John Rhodes”. Boesmantekeninge en die gids se vertellings oor grotlewe van baie jare gelede fassineer die kinders. Die Matopos het ons aangegryp, aangespreek en aangenaam verras.

Sekuriteit in Afrika

In Bulawayo pas ek die kinders en die bagasie in die gesluite motor op terwyl my man sy bankkaart veilig vasklem en in die lang tou gaan val. Ek kontroleer kort-kort die truspieël, die kant spieëls en die voetgangers. Die vensters is net op gleufies oop en die kinders begin warm kry met die winterson wat op ons bak.

 By die kitsbank kom ʼn bejaarde Britse dame (wat duidelik al jare lank in Zimbabwe woon) agter my man in die tou staan. Soos een man bereik die mense konsensus en maak soos die spreekwoordelike Rooi see vir haar oop dat sy voor kan gaan staan. Toe sy voor kom vra sy een van die omstanders om haar te help omdat haar sig te swak is. Sy gee vir hom ʼn papiertjie met haar PIN kode en vra dat hy vir haar $500 sal trek. Na die tyd staan sy op die sypaadjie en wag dat haar man haar kom haal. Die sekuriteitswag staan op en bied sy stoel vir haar aan om op te sit. So sit ek in die toegesluite motor en die tannie met haar vol beursie met haar kaart en PIN kode op ʼn papiertjie in dieselfde straat vir ons mans en wag.

Die Victoria Waterval – “The smoke that thunders”

Met kameras en selfone in plastieksakke toegedraai staan ons in sopnat ongeloof en kyk na die skoonheid van die wit watermassa voor ons. Die kinders hou kompetisie om te sien wie die meeste reënboë kan tel.

 Die inligtingsborde leer ons van die opvanggebied en die water wat tot 3 maande later eers by die valle aankom. ’n Aardbewing het die vloei van die water verander en die kinders hoor vir die eerste keer van die wreedheid van slawehandel terwyl ons na ʼn standbeeld van David Livingstone kyk.

Volgende keer wil ons ʼn nagtoer doen om die reënboë in die volmaan te sien, die stoomtrein tussen Victoria Falls en Livingstone kom ry en meer tyd hê om tussen die kleurryke stalletjies te kom rondsnuffel.

Kougom-en-kleeflint-ekonomie

Die Zimbabwe-supermarkte se rakke is meestal yl gepak. Ons kry darem wat ons nodig het. Die kleingeld-situasie is egter vreemd. Alhoewel die Amerikaanse doller die amptelike geldeenheid is, word Amerikaanse sente nie gebruik nie. Om op te maak vir die kleingeld wat nie vir jou gegee kan word nie, bied die kassier ʼn handvol toffies of kougom aan. Toe ek die slag nie in toffies en kougom belangstel nie, kry ek my kleingeld – twee potlode en ʼn rolletjie kleeflint.

Oor die grens in Botswana is dit ʼn heel ander storie. Die Spar in Kasane lyk soos wat ons dit in Suid-Afrika ken. Die grootste verskil is die olifantmis in die pad en al die olifante en vlakvarke waarby ons verbyry, oppad winkel toe.

As jou hoed langs ʼn olifant afwaai, los jy dit

Die feit dat ons die nag in Kasane nie so lekker slaap nie, het niks met die geriewe te doen nie. Ons kan deur ʼn hoëveldse donderstorm slaap, maar moet nog gewoond raak aan ʼn olifant se getrompetter 30 m van ons tenthuis af.

 Vir sommige mense mag die boot safari op die Chobe rivier te kommersieel voel, maar vir ons is dit heerlik. Die gids het as klein seuntjie in die omgewing grootgeword en die drie juffers hang aan sy lippe. Hy vertel hoe kinders van jongs af geleer word om wind-op van olifante verby te loop. Hy wys na ʼn dragtige krokodil-wyfie wat standbeeldstil in die son lê en bak. Bietjie later demonstreer die gids hoe hy tussen die lugborreltjies op die water deur navigeer sodat hy nie bo-oor ʼn seekoei vaar nie. Ons sien olifante, krokodille, seekoeie, kameelperde, buffels … om van die voëls nie eers te praat nie. Die oranje en rooi sonsondergang met die riete se reuk en die geklots van water laat indrukke wat vir nog lank in ons gesin se herinneringskatkis sal leef.

Op die langpad loer ek na ons kaart en sien dat ons baie naby die Makgadigadi-panne verby gaan ry – ons neem die afdraai soontoe. Die panne is baie droog en ons sien nie die voëls en die wildslewe waarvoor die panne bekend is nie. Dis ons, die oopte, die stilte, die gebarste aarde. Hier kom ʼn siel tot rus. Al beweging is die trilling van die hitte op die horison.

Palapye is ʼn gerieflike oornagpunt voor die volgende dag se laaste skof huis toe. Ons neem voorraadopname: 10 dae, 863 foto’s, 3 600 km en ʼn leeftyd se herinnerings!

 

Verrassings langs die pad:

  •  Ons sou baie verder met SA rande kon kom as wat ons besef het
  • Alhoewel Visa/Master kaarte by baie plekke aanvaar word, werk die masjiene nie altyd nie
  • Hoe duur die tandemuis in Amerikaanse $ uitwerk
  • Met net 5 dae se voorbereidingstyd het ons dit mis gelees dat motors wit weerkaatsers voor en rooi weerkaatsers agter moet hê (gelukkig het ons Verso wel ingeboude rooi weerkaatsers gehad)

 

Dinge wat ons ekskursie baie vergemaklik het:

  • Die feit dat die hele gesin reeds paspoorte gehad het
  • Die DVD spelers op die lang pad
  • Gesonde padkos
  • Tracks4Africa kaarte op die GPS

 

Dinge om te doen by ons oorblyplekke:

  •  Tshipise:  Heerlike vakansie-oord met baie vermaak vir die kinders.
  • Bulawayo:  Tweede grootste stad in Zimbabwe. Interessant om te beleef.
  • Matopos:  Natuur, vreemde klipformasies, Boesmantekeninge, grotte, museum, Cecil
  • John Rhodes se graf, Matopos Nasionale Park (nie noodwendig ʼn 4×4 nodig nie, maar wel ʼn geligte onderstel)
  • Vitoria Falls:  Wêreld se grootste waterval, maanligtoere tydens volmaan, avontuur uitstappies (reksprong, roei, helikopter ritte ens.), stoomtrein na Livingstone,
  • Kasane:  Land en water safari’s met volop wild, ekskursies vanaf Kazungula na die sg
  • Vierlande punt waar Zimbabwe, Zambië, Botswana en Namibië se grense binne 150m van mekaar af by mekaar uitkom.
  • Nata:  Makgadigadi panne, Nata Lodge vir ligte etes (maar dalk oortuig hulle gasvryheid jou om sommer daar oor te slaap!)