In ons huis is verjaarsdae groot. Vir daardie dag is jy die eregas in die huis. Alles draai om jou en ons vier die feit dat jy gebore is en hoedat jy ons lewens kom aanraak het. Met Kersfees is dit dus vir ons ook belangrik dat die juffers snap dat ons Jesus se verjaarsdag vier en hoedat Hy ons lewens kom betekenis gee. As ons met ons eie verjaarsdae groot gaan, gaan ons met sy verjaarsdag dus nog groter.

 Wat ʼn kosbare betekenis het Kersfees nie vir ons as Christene nie! Ons Verlosser het ons so lief gehad dat Hy die moeite nie ontsien het om as mens gebore te word en sy liefde vir ons aan ʼn kruis te kom bewys nie. Dit is krities dat ons dit vir ons kinders prakties sal maak sodat hierdie verhaal vir hulle meer as ʼn uitbeelding op ʼn kerskaartjie sal wees.

Uitreik

Ek het vir drie jaar alleen in Europa gewoon en het in daardie tyd beleef hoeveel dit beteken wanneer ander mense hulle huise en harte (veral oor Kerstyd) vir my oopmaak. Ek onthou my onbeskryflike dankbaarheid wanneer ek oor Kersfees genooi is om die dag saam met ʼn gesin te spandeer. Die feit dat daar nog ʼn geskenkie met my naam onder die boom ook was, het my hart sommer laat verkrummel. Ek het besef hoedat die Here my (in ʼn baie alleen tyd van my lewe) versorg en toegevou het en uitreik na ander het summier vir my deel geword van die Kersboodskap: “Soos my Vader my gestuur het, stuur ek julle ook…”

Dink in hierdie tyd aan mense wat alleen is en maak ʼn plan om na hulle toe uit te reik:

  •  Mense in jou familie en vriendekring
  • Bejaardes wat die dag alleen by die ouetehuis spandeer
  • Siekes in hospitale
  • Kinderhuis kinders wat nie oor die vakansie uitgeplaas kan word nie
  • Nooddiens personeel wat Kersdag skofte werk

Ons gemeente het ʼn jaar of wat gelede na afloop van die Kersdiens ʼn ‘Koppie vol Kersfees’ uitreik gehad. Ons het Koffie bekers met ʼn lekkertjie in aan die personeel by die polisiestasie en by die staatshospitaal gaan uitdeel. Die boodskap op die kaartjie het bloot gelui: “Thank you for your service to our community. May you experience the love of Christ during this festive season and throughout the new year.”. Ons gesin het al iets soortgelyks op Ou Kersaand gedoen vir petroljoggies. Die ontvangers se reaksie is telkens oorweldigend en almal wat saam gaan, word self diep aangespreek. Dit neem ons nie meer as ʼn uur nie.

Bring en Sing

Die gesin waaruit ek kom was baie lief vir sing en musiek maak. Ons het in die hoërskool ons eerste “Bring en Sing” gehou. Ons kinders het elke jaar ʼn nuwe sangbundel saamgestel met ʼn mengsel Kersfees en ander liedjies. Die Bring-deel van die uitnodiging het behels dat elkeen sy eie musiekinstrument moes saam bring. Kitare, viole en fluite was uiteraard welkom, maar gaste is aangemoedig om hul eie instrumente te maak. Koekblikke, botteltjies vol rys, linte met klokkies om jou polse. Dit het al hoe interessanter geword toe ons studente word.

Geskenke

Die gee van geskenke is tradisioneel een van die maniere waarop ons dit wat Jesus vir ons gedoen het, prakties maak.

My pa het een jaar aangekondig dat die tema vir ons gesin se kersgeskenke “Christus se lig” sou wees. Ons moes almal saam help dink aan geskenk idees en gepaste boodskappe op die kaartjies. Dit is dan bespreek soos wat ons die geskenke oopgemaak het.

Met kinders in die huis beklemtoon ons natuurlik oor en oor dat die geskenke wat ons gee net simbole is van die grootste geskenk wat ons ooit kon kry – Jesus wat Homself aan ons gegee het sodat ons vir ewig saam met Hom kan leef!

Ons moet ook nie vergeet om vir Jesus ʼn geskenk terug te gee nie – Die geskenk wat Hy die graagste wil hê, is JY. Ons probeer daarom ook klem lê op tuisgemaakte kaartjies of geskenke (waar dit kan) om aan die kinders iets daarvan te verduidelik om van hulself te gee.

Kreatief skep

Om saam te sit en knutsel, is nie net gesellige gesinstyd nie, maar ook ʼn wonderlike geleentheid om die kersboodskap te internaliseer. ʼn Paar idees van goed om te maak:

Kerskrans (van enige iets soos dennebolle, lapflenters om draad of brooddeeg)

  • Kerskaartjies
  • Kersversierings
  • Klappers (wees kreatief met simboliese inhoud vir die klappers)
  • Plekmatjies of servetringe vir die Kerstafel
  • Geskenke vir onderwysers, familie, vriende

Verder het ek ook al geleer om die kinders te vra om te help dink aan oulike idees om Kersfees te vier. Hulle verbaas my telkens met hulle kreatiwiteit en entoesiasme.

Die kinderliedjie lui “Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar…” Mag die manier waarop ons Kersfees in 2016 vier hierdie Waarheid vir die wêreld sigbaar maak.

Ns. As jy hierdie blog geniet het, lees gerus ook die blog wat hierdie een vooraf gaan “Skep Christus gesentreerde Kerstradisies – SAAM WEES oor Kersfees”

Advertisements