Al drie ons kinders het die voorreg gehad om by ʼn dierbare en wyse Gr 0 juffrou te wees aan wie se raad ek my graag steur. Sy het eendag genoem dat ouers nooit ophou om vir goeie maats vir hulle kinders te bid nie. Eers bid ʼn mens vir lekker maatjies wanneer hulle skool toe begin gaan, dan bid jy vir heilsame tiener vriendskappe en daarna bid jy vir ʼn liefdevolle lewensmaat. Daarvoor, sê sy, hou ʼn mens aan met bid selfs na die troue. Sodra daar dan kleinkinders by kom raak die gebedslysie net langer en langer.

Ek onthou hoedat my Oupa Jurie en Ouma Mala daagliks vir al vier hul dogters en skoonseuns en elkeen van hul 16 kleinkinders op die naam gebid het. Hulle het veral vir ons elkeen vir goeie maatjies gebid. My ouers het toe ons nog klein babatjies was al reeds vir ons lewensmaats begin bid. Hulle het dit ook voor en saam met ons gedoen soos wat ons ouer geword het.  Al hierdie gebede waarvan ek as kind al van bewus was, het my op ‘n kinderlike manier ‘n groot vrede en vertroue gegee dat die Here se hand ook oor my vriendskappe is.

Met die nuwe skooljaar op ons drumpel is die maatjie-ding iets wat my gedagtes nogal besig hou. So tussen my beplanning aan die skryfbehoeftes, heel skoolskoene en genoeg rolle plastiek vir die boekoortrek maraton wat wag, kry ek myself dat ek kort-kort ook vir goeie vriendskapsverhoudings bid.

Ek bid vir vriendelike en vrolike maatjies. Maatjies wat mekaar opbou en aanspoor tot beter dinge. Maatjies wat op ʼn positiewe manier aan my kinders gaan help vorm in tye en op plekke waar ek nie betrokke is nie.

Ek bid terselfdertyd ook dat my kinders sal snap dat nie alle verhoudings goed is nie en dat hulle die verskil sal ken. Dat hulle sal verstaan dat hulle identiteit nie in hul affiliasie met ander lê of hul waarde deur ander se goedkeuring bepaal word nie.

Ek bid dat hulle Christus beter sal leer ken en liewer sal kry en dat Hy hulle heel beste vriend en maatstaf vir ander vriendskappe sal word.

Ek bid veral dat my kinders ook goeie maatjies sal wees vir ander.

En wanneer ek ʼn volledige stel kryte vir elke kind uit al die vorige jare se oorskiet bymekaar gesit het en elkeen weer ʼn heel liniaal het vir die nuwe jaar, las ek voordat ek Amen sê vinnig by… “Here en laat ek ook in al hierdie dinge vir my kinders ʼn voorbeeld wees. Asseblief.”