Ek het vooraf geweet dat Donderdagoggend dol sou wees. Daar is heelwat hooi op my vurk, maar nou ja, ander is al deur oorloë. My groot besorgdheid is my radio oordenking wat teen 12 uur uitgesaai moet word en waarmee ek nog nie begin het nie.

Dit was toe ek met nat hare uit die stort in my man se frons vaskyk dat ek besef dat vandag selfs bietjie meer van ‘n donder in gaan hê as ‘n gewone Donderdag. My man het ʼn dubbel afspraak en ʼn paar ander goed het ook skeef geloop sedert ek in die stort geklim het. Terwyl my man klaar aantrek, tik ek sy gebedsbrief vir die week klaar, kry dit gereed vir die drukkers en speel so tussendeur pastorieskakelbord met die vroegoggend oproepe wat inkom. Ek bevestig met Piet, ‘n gemeentelid wat aan die huisalarm kom werk, dat ek tot half twaalf tuis sal wees en noem dat ons hulle hulp daarmee baie waardeer.

Met drooggeblaasde hare en die belangrikste vertrekke waar Piet sal moet werk redelik opgeruim, kom sit ek voor die rekenaar om aan my oordenking te begin werk. Hoeveel keer het ek myself al voorgeneem om dit nooit weer tot op die nippertjie te los nie? Ek soek ʼn onlangse e-pos met ʼn paar voorstelle wat gelyk het asof dit bruikbaar kan wees. My program begin gestalte kry.

‘n Vriendin van ver bel en vir die eerste keer in vier oproepe kry ons mekaar persoonlik in die hande. Sy groet opgewonde en vra hoe dit gaan. “Die kort antwoord is “Goed dankie”, maar kan ek jou vanmiddag terug bel vir ʼn langer weergawe?” Ai, wens ek kon nou kuier. Ten minste is my program darem al amper klaar.

Die voordeurklokkie lui. Dis nie Piet nie. Die oom was by die kerkkantoor en meen toe om vinnig die oefengewigte wat hy vir dominee belowe het te kom aflaai. Ek verduidelik dat my man nie tuis is nie en bied aan dat hy die gewigte by my kan los. (Van wanneer af stel my man hierin belang?!)

Ek stap saam met die vriendelike oom motor toe om die gewigte te gaan haal.

Die eerste gewig wat hy met een hand aangee, kan ek kwalik met beide hande vashou. Ek probeer sy verduideliking mooi volg hoe om ekstra gewigte aan te sit en verstellings te maak totdat ek agterkom dit is die gewigte waarmee hý oefen. Op die agtersitplek lê die twee gewiggies wat hy vir my man gebring het. (Oom, ek moet my radioprogram oor ‘n uur en ‘n half uitsaai!) Ek belowe namens my man dat hy die oom sal terug bel en neem die gewigte binne toe.

Die Oom kom agter my aan terwyl hy papiere in my rigting ritsel met oefeninge wat hy voorstel my man moet doen. Ingeval die stapsgewyse illustrasies en foto’s dalk vir ons onduidelik gaan wees begin die oom die oefeninge een vir een vir my te demonstreer. Hier staan ek en kyk na ‘n vreemde man wat gewigte rondswaai in my sitkamer terwyl ek oor net bietjie meer as ‘n uur op die lug moet wees!

Ek belowe die oom weer dat ek my man sal kry om hom te skakel en dan kan hy sommer self by die oom hoor wat hy alles te sê het.

Uiteindelik is ek weer voor die rekenaar en spoed my vingers oor die toetsbord.

My man is terug. Gaaf! My hoof kritikus. Ek voel altyd beter as ek voor ʼn uitsending sy kommentaar kan kry. My program deurstaan sy vuurtoets. Hy sê trouens dat dit tot dus ver een van my bestes is. Nou toe nou!

Daar is egter nie tyd om my in sy kompliment te verlustig nie. Ek het ‘n halfuur oor en ek moet nog die program êrens gaan uitdruk. Ons eie drukker is vroeër die week saam met die alarm deur die donderweer uitgeslaan. Gelukkig is plan B die kerkkantoor.

My man het my motor vas parkeer maar gee sy sleutels vinnig aan omdat ek so laat is. Ek laat skrik die skoolkinders op die speelgrond oorkant die kerk toe ek met ‘n stofwolk agter my by die kerkkantoor stop. Die kerkkantoor is gesluit, die dames is bank toe. Helaas.

Plan C… maar my vriendin se huishulp se gesig sê lank voor haar woorde dat sy alleen tuis is. ʼn Angstige plan D slaag gelukkig toe tannie Francien my gou kon help om die paar bladsye uit te druk. Sy is selfs vriendelik genoeg om my vir tee te nooi. Ek neem beleefd ʼn reëntjek.

Ek kies my roete ateljee toe sodat ek my kanse op ʼn verkeersbeampte onder ʼn boom minimaliseer. Enkele minute voor twaalf storm ek die trappies op na die ateljee toe. Ek bars by die voordeur in en kyk vas in drie verbaasde gesigte. Niemand deel my haas nie. Die stasie se sender is Maandag deur die donderweer uitgeslaan. Oeps, hulle moes my seker laat weet het. Jammer.

Genade, wat ‘n dag! En nou het ek nog nie eens begin vertel van die drama toe my man agterkom dat ek met albei motorsleutels in my handsak by die huis weg is nie.

Advertisements