Eendag lank gelede was daar ʼn muis en sy mamma.  Mamma Muis was baie lief vir Baba Muis.  Mamma Muis het elke aand vir Baba Muis stories gelees en hom nag gesoen voordat hy gaan slaap.  Baba Muis was ook baie lief vir Mamma Muis.

 

Baba Muis het dit geniet om buite te speel en was ʼn vrolike karnallie muis soos wat klein muisies maar is.  Mamma Muis het Baba Muis mooi geleer van die lewe en hom begin leer om uit te kyk vir die gevaarlike kat op die werf.  Muise moet altyd versigtig wees dat hulle nie deur Gevaarlike Kat gevang word nie, dan sal hulle lank en gelukkig kan lewe.

 

Baba Muis het groot geword en die tyd het aangebreek dat hy na die Muisskool toe moes gaan.  Mamma Muis was baie trots toe sy Baba Muis die eerste dag by Muisskool aflaai.  Sy het selfs ʼn traan of twee met haar stert uit haar ogies gevee toe sy deur die klasvenster sien hoe mooi Baba Muis langs sy maatjies by sy tafeltjie sit en met die skoolwerkies begin.

 

In die middae het Mamma Muis vir Baba Muis gehelp met sy huiswerk en partykeer sommer ekstra spelwoorde en somme by gesit, sodat Baba Muis net nog slimmer sal word.  Baba Muis kon nie nou meer soveel speel soos voorheen nie. 

 

Baba Muis was gewild onder sy maatjies en het skool baie geniet.  Elke keer wanneer daar iets by die skool aangebied is, het Mamma Muis vir Baba Muis ingeskryf om deel te neem.  Op Maandae het sy hom vir Skarrel lesse geneem en op Dinsdae het hy ʼn dubbel Snuffel les gehad.  Woensdae moes Baba Muis sommer direk na skool bly vir ʼn Spoed klouter les en dan het Mamma Muis vir hom broodjies gebring om te eet voordat sy Wegkruip lesse begin.  Op Donderdae moes Baba Muis vinnig hek toe kom dat hulle gou kan vertrek omdat die Knaag lesse nogal ver is en dan het hulle eers donker terug gekom by die huis.  Vrydae het Baba Muis Gevorderde Spoed Skarrel lesse gekry by Meester Muis.  Baba Muis was eintlik nog te jonk hiervoor, maar Mamma Muis was baie trots dat Meester Muis ingestem het om Baba Muis tog by die oefen groep in te sluit.

 

Baba Muis moes soms baie laat in die aand nog werk om al sy huiswerk klaar te kry.  Daar was nie meer tyd om stories te lees voordat hy gaan slaap nie.  Baba Muis het ook nie meer geweet dat Mamma Muis hom elke aand nag soen nie, want hy was elke aand al vas aan die slaap wanneer sy in die kamer kom. 

 

Dit alles het Baba Muis baie moeg gemaak en hy was nie meer die vriendelike karnallie muis wat hy altyd was nie.  Mamma Muis het dan mooi gepraat en verduidelik dat sy net die beste vir hom wil hê en dat dit alles nodig is sodat Gevaarlike Kat hom nie sal kan vang nie.  Mamma Muis het ook graag vir haar vriendinne vertel hoe goed Baba Muis in al sy aktiwiteite vaar en hoe trots sy afrigters op hom is.

 

Selfs Mamma Muis het soms baie moeg geraak.  Sy het nie meer tyd gehad om al die lekker dinge te doen wat sy altyd gedoen het nie, soos die Piep-koor waarin sy gesing het of die Snorbaard-tril danslesse (waaroor Pappa Muis ook spyt was).

 

Eendag, terwyl Baba Muis op pad was na ʼn maatjie om ekstra wiskunde oefenblaaie te gaan haal, kom Wrede Kat vinnig om die hoek.  Baba Muis het alles onthou van skarrel en klouter en wegkruip, maar hy was net te moeg om vinnig genoeg te kon weg kom.  Almal was baie geskok en verbaas en veral baie hartseer.

 

 

 

Gelukkig is hierdie nie ʼn ware verhaal nie, want muis mammas sal nie regtig so maak nie.