Sy loop met ʼn sak in elke hand en ʼn kind op die rug in dieselfde rigting as wat ek ry.   Ek besef dat hierdie kromrug figuur in hierdie deel van die dorp nog ver sal moet stap na waar sy ook al woon.  Ek trek af en vra waarheen sy op pad is en of ek haar ʼn geleentheid kan aanbied.  Die gretigheid in haar oë laat my sommer ʼn ekstra paar kilometers aan ry tot by ʼn hoofpad waarvandaan sy makliker tuis sal kan kom.  Sy woon in ʼn plakkerskamp, nie te ver van ons af nie (dit is nou as jy ʼn motor het, anders is dit nogal ver van ons af).

Dit is Dinsdagoggend.  Asblik-dag.  Ek herken haar as een van die mense wat Dinsdae deur ons swartsakke op die sypaadjie snuffel, opsoek na iets van waarde.  Sy neem huis toe wat ons uitgooi.  Hoe relatief is ‘waarde’ tog. In die motor op pad na die plakkerskamp hoor ek dat sy van Bloemfontein se wêreld af kom, dat sy na haar 14 jarige kleindogter omsien (wie se ma dood is) en dat sy al ʼn paar jaar lank hier woon.  Ek wonder hoe ʼn mens dit uit ander se asblikke regkry?  Die baba is iemand anders s’n wat sy deur die dag oppas, sodat die mamma kan gaan werk soek.

Ek vra haar wat sy vandag in haar sakke het. Haar gesig helder op. Dit was ʼn goeie dag sê sy.  Tamatiesousbottels waarvan sy die oorskiet bymekaar kan gooi, suur melk en toiletries. Sy is vanoggend ekstra opgewonde oor haar spesifieke fonds:  ʼn Stuk geskenkpapier.  Haar kleindogter verjaar volgende week en nou het sy iets om vir haar ʼn geskenk mee toe te draai.  Sy sal nog sien wat.

My hart krimp ineen.  Ek wil desperaat vir haar iets saam gee, maar ek het geen kontant in my beursie nie.  Ons groet en sy sê oor en oor dankie vir die saamrygeleentheid.  “Mag die Here u seën mevrou!”.  “Dankie, mag Hy vir jou ook seën.”, antwoord ek uit my hart.  Terwyl sy uitklim sien ek van die goed by die sakke uitsteek:  ʼn leë pakkie koekiekrummels, ʼn gebruikte botteltjie gesigroom en die opgefrommelde geskenkpapier.

Op pad terug gesels ek met die Here.  Ek wou so graag iets meer vir die vrou en veral vir die verjaarsdagmeisie doen.  Sy antwoord kom duidelik by my op: “Ek is die een wat vir haar sorg.  Ek gebruik jou as deel van my plan.  Jy het vandag vir haar gedoen wat ek wou hê jy moes doen.  Ek sal verder (ook deur ander mense) vir haar sorg.”

Soos wat die Here die ouma en haar kleindogter op my hart gedruk het, het ek telkens daarna vir hulle gebid.  Ek het gebid vir genade, vir daaglikse brood en veral ook vir die gehoorsaamheid van die volgende persoon wat die Here in hulle lewe wil gebruik.

Advertisements