Ek staan nou die dag tweede van voor in die ry by KFC en wag.  Dit het my opgeval hoedat die ry voor my stil staan, maar hoedat die ry van agter af al hoe nader aan my beweeg.  Jy weet mos, met die persoonlike ruimte wat van mens tot mens verskil en als. 

Ek is ʼn student van mense se gedrag en vind sulke situasies fassinerend.  Besluit toe net daar om ʼn gevallestudie daarvan te maak en te kyk presies waar loop die grense van die persoon agter my se persoonlike ruimte.  Ek gee toe ʼn klein tree nader aan my buurman. Dit kos my drie keer se nader beweeg voordat ek blykbaar in sy persoonlike ruimte in beweeg en hy effens agtertoe rettereer.  Daarna het ek en hy nog lekker gestaan en gesels oor KFC se onvoorbereidheid vir die Vrydagaand spitstyd, maar ek was verbaas oor hoeveel van my persoonlike ruimte ek moes opoffer.

Op universiteit het die studente leraar, Oom Barry van der Merwe, ons destyds tydens ʼn Bybelstudie gevra om liefde te definieer.  Die lewenswyse studente se antwoorde het gewissel van aanhalings uit die Bybel en dramatiese uitlegte soos “Liefde is wanneer twee siele een word” tot van die siniese manne wat sê “Liefde is die vinnigste manier om akademies agter te raak” of “Liefde is duur, dit maak jou bankrot voor jy dit agter kom”.

Oom Barry se definisie het my egter deur die jare bygebly:  “Liefde is om ruimte te skep vir mekaar”.  As student het dit so onromanties geklink, maar soos wat ek ouer geword het, het dit meer en meer vir my sin gemaak.

Natuurlik is dit wat liefde is!  Dit pas so mooi in by Jesus se boodskap oor liefde.  Hy verkondig dit nie net nie, maar stel ook die voorbeeld in sy afbuig om soos ʼn slaaf vuil voete te was terwyl Hy eintlik die Koning is.

Ons wil so graag hê dat om Jesus se voorbeeld te volg nie te veel van ons sal vra nie.  Ons wil dit vanuit ons gemaksone kan doen.  Die grense van ons gemaksone is dikwels so wyd dat ons sukkel om aan die ander persoon te kan raak. Ek moes my eie persoonlike spasie inperk om tot by die persoon agter my in die ry uit te kom.  Dit is wat ons dikwels geestelik ook nodig het om te doen.

In hierdie tyd voor Paasfees kan ons onsself gerus daaraan herinner dat Jesus TWAALF pare voete gewas het die aand voordat Hy gekruisig is.  Hy het Judas nie oorgeslaan nie, al het Jesus reeds geweet dat hy Hom sou verraai. 

Jesus wys vandag in 2017 nog daardie selfde genade vir ons.  Nie net was Hy bereid om sy hemelse gemaksone ter wille van my en jou  in te perk nie, Hy het sy lewe vir ons afgelê. 

Rom 5:8: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Daar is vir my spasie gemaak toe ek dit nog nie verdien het nie.  Dit het my laat dink oor vir wie ek dieselfde behoort te doen om God se liefde in Paasfees sigbaar te maak.

Ek het hierdie week in trane vir my man kom vertel hoedat ʼn ou tannie my weer hieraan kom herinner het.  ʼn Vriendin uit Amerika het vir my ʼn pakkie saam met haar ma se kersgeskenk gestuur.  Ek moes dit by die tannie gaan oplaai en sy was gretig om ons te ontvang en baie lus vir kuier.  Albei haar dogters is oorsee en haar man is ʼn jaar gelede oorlede.  Ek het na al haar stories oor die kinders en kleinkinders geluister en gehoor hoe sy uitsien na hulle volgende kuier.  Ek moes net ʼn klein boksie kom oplaai, maar die tannie het alles op haar bed uitgestal gehad.  Sy was nie seker wat myne en wat haar geskenke was nie.  Een vir een het sy haar geskenke opgelig en vir my aangebied.  Sy het die silwer skinkbordjie laaste na my toe uitgehou om vir my te gee.  “Nee Tannie, net die boksie is myne. Die skinkbord is ook Tannie s’n”. Sy het stip na die skinkbordjie in haar hand gekyk en geantwoord: “Ek is nogal bly, want ek het baie van die skikbordjie gehou. Dis vir my spesiaal.” Ek het haar arm gevryf en moes twee keer sluk voordat ek verder kon praat.  Ek was diep aangespreek deur die eensame tannie se bereidheid om selfs die skinkbordjie waarvan sy so baie gehou het, vir my te wou gee. 

Om my naaste lief te hê, is om vir my naaste spasie te maak.  Die wêreld werk soveel anders as dit.  Ons beleef dit elke dag.   Ons kinders het so nodig om te sien hoedat ons Jesus se voorbeeld volg deur spasie te maak vir ander.  Ons voorbeeld is juis die duidelikste wanneer dit vir ons moeilik kom en vra dat ons van onsself opoffer.