Ek het ʼn stokou trommel wat ek van ʼn familie lid geërf het en hierdie is die enigste tyd van die jaar wat my kinders dit mag oop maak. Dit is ons Kersversieringstrommel.

In ʼn wêreld vol skitter liggies en “Jingle Bells all the way” is dit soms maklik om  die ware betekenis van Kersfees tussen al die bont geskenkpapier te verloor. Die opwinding en geselligheid van Kersfees sal altyd daar wees, daarvoor sorg die winkels se kersversierings sedert September en die kleurvolle advertensieblaadjies.  Dit is egter Christus se volgelinge wat moet sorg dat die volheid en diepte van die aanvanklike bedoeling van Kersfees nie by ons kinders en die res van die wêreld sal verby gaan nie.

Een manier waarop ons dit kan doen is deur Christus gesentreerde tradisies in ons gesinne en huise te skep. Meeste van ons het herinneringe uit ons kinderdae van spesiale gesinstyd rondom Kersfees. Hierdie herinneringe het ons harte dikwels so diep aangespreek dat ons dit as grootmense nog steeds koester en op ʼn manier aan ons kinders ook wil oordra.

Hier is ʼn paar gedagtes oor hoedat ons deur ons SAAM WEES die fokus in hierdie tyd op Jesus kan plaas.

Huisgodsdiens

Menige van ons onthou hoedat die hele familie op Oukersaand in die sitkamer of om die eetkamertafel bymekaar kom om die Kersverhaal voor te lees. ʼn Vriendin vertel hoedat dit altyd die voorreg was van die jongste lid van die gesin (wat al kan lees) om dit vir almal voor te lees. Ek onthou hoedat ons met Kersvakansies by my Oupa-hulle gesukkel het om liedjies te kry wat vir almal bekend is. Uiteindelik was die reëling dat elkeen die woorde sing soos wat hy dit ken. So is Stille Nag dan deur drie generasies op drie verskillende maniere saam gesing.

Kerstoneel opvoering

Of die grootmense kastig vooraf kaartjies moet koop en of hulle kuier sommer net uit die bloute onderbreek word met “Die konsert gaan nou begin”, kinders van alle tye geniet dit om die kersverhaal uit te beeld. Dit maak die feite van die verhaal in hul harte vas en spreek die grootmense opnuut aan om die verhaal uit die oë van kinders te sien.

Vriende se seuntjie het in sy rol as herbergier in die skoolkonsert baie swaar gekry om vir Josef en Maria te moet weg wys en antwoord toe “Jammer, maar wil julle nie maar inkom vir ʼn koppie koffie nie?”. Kinders neem die uitbeelding dikwels baie ernstig op. In ons familie giggel ons nou nog oor my broer se ervaring op 5 om vir die Here op te offer toe hy sy juffrou verkeerd verstaan het. Hy het sy juffrou baie letterlik opgeneem toe sy verduidelik dat hy as herbergier ʼn rok en nie ʼn broek moet dra nie. Dit het eers later, toe hy al ‘n tiener was, uitgekom hoe ongemaklik hy daardie aand so kaalbas onder die rok gevoel het. Gelukkig was dit ʼn lang rok.

Feestelike geselligheid 

My Kaapse ouma het die kersboom en haar sak versierings gereed gehad sodat wanneer die eerste kleinkinders opdaag, hulle die boom kan versier. Daar is altyd ʼn paar versierings gebêre vir die wat later kom aansluit het. So is die vakansie (en die feestyd) ingelui met die versiering van die kersboom. Ek het dus groot geword met die gedagte dat kersversierings sommer al vroeg in Desember opgesit word.

Alhoewel ons ook van Kersvader- en takbokversierings hou, probeer ons elke jaar ʼn verskeidenheid versierings in die huis gebruik met simboliese waarde. Dit is verbasend hoe vindingryk die kinders met die uitdink hiervan is. Ons gebruik kleure wat vir ons betekenis het en ʼn verskeidenheid items vol simboliek soos takke, kerse, dennebolle en klokkies wat die boodskap moet help versprei.

Deel met mekaar wat die Here die afgelope jaar vir jou beteken het

 Met verjaarsdae speel ons gesin soms die speletjie “Jy is vir my spesiaal want…”. Oor die feestyd en met die aanbreek van ʼn nuwe jaar probeer ons ook ʼn geleentheid skep om met mekaar te deel wat die Here die afgelope jaar vir ons beteken het.

Ons het by geleentheid al ons eie kersklappers gemaak en sit dan ʼn vraag soos hierdie binne in elke klapper:

  •  “Ek is dankbaar vir die Here want….”
  • “Ek het die Here die afgelope jaar raak gesien in…”
  • “Die Here het my die afgelope jaar laat groei in…”

 

Mag ons die Here in hierdie Kerstyd verheerlik in ons SAAM WEES!

In die volgende blog gesels ons verder oor SAAM DOEN dinge wat die fokus op Jesus plaas en hoedat ons sy naam daardeur kan verheerlik.