Ek is ʼn ekstrovert. Ek put my energie uit die saamwees met mense. Dit is een van die redes waarom ek Kerstyd so geniet. Omdat almal bietjie afskaal, is daar meer tyd vir kuier en saamwees. Ek het al in November begin rondskrop soos ʼn broeis hen. Dit is al van vroeg November af ʼn beplannery en kosmakery. Kamers is rondgeskuif, kaste is oorgepak, die kersboom is versier, geskenke is gekoop, kos is gemaak en reëlings is getref. Intussen het ons die gewone stroom mense deur ons huis, maatjies wat kom speel (en dan word dit sommer ʼn oorslaap), etes of laat middag koffie kuiers met vriende, oornag gaste op pad na hulle kersbestemmings… dit alles pas in my prentjie van die feestyd in. As ek ʼn geleentheid sien, dan nooi ek nog mense. So tel die lewe spoed op in die aanloop tot Kersfees. Omdat die uitgebreide familie nie almal hier kan wees nie, vier ons Kersfees sommer deur die loop van drie dae om by almal se skedules en skoonfamilies in te pas.

Waar mense nie na ons toe kan kom nie, gaan ons na hulle toe. Ons kuier by vriende in Potchefstroom, by familie in Johannesburg en neem vir die ouetehuis koekies. Op Kersdag gaan deel ons klappers en soetgoed uit by die polisie- en die brandweerstasie omdat ons weet dat hulle nie saam met hulle dierbares kan wees oor hierdie tyd nie.

Die gewerskaf om alles reg te kry en vir almal reg te staan, eis wel met verloop van tyd sy tol. Dit is alles baie lekker, maar dit is regtig baie werk ook. Die skottelgoed word mos nie vanself skoon nie en die wasgoed kom nie vanself gewas nie. Na afloop van al die feestelikheid, voel ek dus redelik gedaan. Ons laaste gaste vir die dag is gisteraand net voor middernag hier weg en die twee oumas het elkeen vanoggend by familie in die omgewing gaan kuier. Dit gee my en my man tyd om die feestelike orkaan wat deur die huis is, aan te durf. Nadat die laaste geskenkpapier flenters onder die sitkamerbanke uitgesnuffel is, die oorvol asblikke in die kombuis leeg gemaak is en die Lego waarmee die klein nefies gespeel het deur die huis opgetel is, begin dit lyk asof die noodtoestand wat in die huis geheers het, opgehef kan word. Dinge begin weer onder beheer te lyk en te voel.

Die kinders het allerhande behoeftes wat bevredig moet word, wat hoofsaaklik te doen het met die bestee van geskenkgeld en my man belowe om hulle winkel toe te neem. Met drie juffers wat elkeen hul eie prioriteite en verwagtings het en ʼn pa wat ook vir ʼn slag uit die huis wil kom, kan die uitstappie ʼn rukkie duur.

Ek verwelkom die stilte en die alleen tyd in die huis. Nou kan ek ʼn paar dinge gedoen kry. Terwyl die eerste bondel wasgoed se water begin intap, besluit ek om kwaliteit tyd op die oefenfiets te gaan spandeer. Ek speel twee spelle Catan op my foon terwyl ek fiets trap en stap uiteindelik nat gesweet terug kombuis toe. Ek skep van die oorskiet vir die tuinjong in vir middagete en wonder wanneer my man en kinders huis toe sal kom. Ek was gou die laaste handskottelgoed en gee die pietersielie water op die vensterbank. Dit is nou al ʼn tydjie sedert my man en die kinders hier weg is op hulle winkel ekspedisie.

Ek begin rond kyk in die huis en wonder wat ek nog kan doen om dinge gereed te kry vir wanneer hulle terug kom. Daarna poleer ek die yskas dat geen vingerafdruk spesialis meer ʼn merkie daarop sal vind nie en ek vryf ook sommer al die kaste se handvatsels skoon. Wat kan ek nou doen? Alles is min of meer op hulle plek en gereed vir verder kuier, maar nou is hier niemand nie. Die vrieskas is nog vol kos vir vanaand en môre aand (en saam met die oorskiet, vir die aand daarna ook!), maar hier is nou niemand om voor kos te gee nie. Die beskuit blikke is vol en daar is nog koekies oor waarvan die kinders sal hou, maar ek is nie nou alleen lus vir koffie nie. Ek besef dat al die belangrike goed nou min of meer gedoen is, maar dat dit die hartsmense om ʼn mens is wat regtig daaraan sin gee.

Ag en toe kom blog ek maar daaroor, want ek weet dat ek nie die enigste een is wat so voel nie…

Advertisements